1 2 3 4

Friday 16 October 2015

Vryheid met verantwoordelikheid ღ







Vryheid met verantwoordelikheid


Lees – 1 Korintiërs 8


Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie vir dié wat swak is, ‘n aanleiding tot sonde word nie  (1 Kor 8:9).


Elke mens stel ‘n hoë prys op sy vryheid.  Jy wil seker ook graag vry wees en doen waarvoor jy lus het, sonder dat jou ouers of onderwysers jou keer.

Jy ís vry om binne die raamwerk van God se wil te doen wat vir jou lekker is, mits jy jou dade toets aan die Bybel.  Selfs dan kan dit nog gevaarlik wees:  Deur te doen wat vir jou reg is, kan jy van jou vriende, wie se geloof dalk nie so sterk soos joune is nie, in die versoeking bring – en dít is beslis nie in lyn met God se wil vir jou nie.

Dans, rook en drank word nie in die Bybel as sonde bestempel wanneer dit matig en verantwoordelik gedoen word nie.  Tog kan al drie hierdie dinge mense wat nie sterk in die geloof is nie láát sonde doen.

Dink mooi voordat jy weer ‘n disko besoek of dalk lus kry om op ‘n partytjie wyn te drink of te rook.  Is jy nie dalk besig om jou vryheid te misbruik en een van jou vriende in die versoeking te lei nie?


Here,

Ek is jammer as my vriende al deur
een van my dade in die versoeking beland het. 
Maak my baie versigtig in die toekoms
sodat ek my vryheid nooit sal misbruik nie. 

Amen


*Ek moet my vryheid verantwoordelik hanteer.*




~ Nina Smit ~


  Jesus se Dogterkind @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!



Share on Tumblr

No comments:

Post a Comment