1 2 3 4

Sunday 3 January 2016

Tienergebed









Here,


Die wêreld is so anders noudat ek ‘n tiener is.
Dit voel vir my asof niemand meer dieselfde is nie – ék ook nie.
Dit is asof niemand my verstaan nie –
soms verstaan ek myself nie eens nie!
Ek wens dat ek vir altyd klein kon bly.
Tog sien ek ook uit na die grootmenswêreld wat wink.
Ek is soms verward en hartseer – en net die volgende
oomblik weer seker van myself en gelukkig.
Ek is bang vir die nuwe, onbekende dinge en
emosies wat op my afstorm.
Help my tog, Here!
Dankie dat ek kan weet:  Met U by my, kan ek my
lewenspad met vertroue loop.


Amen


Nina Smit : Elke dag ‘n droom




Jesus se Dogterkind / Facebook
Poppie Oosthuizen










Share on Tumblr

Saturday 2 January 2016

God bly altyd dieselfde








God bly altyd dieselfde


Lees Hebreërs 13:7-9


“Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid”  (Heb. 13:8)


Jy leef in ‘n wêreld vol tegnologiese wonders – selfone, MXit, GPS, Facebook, DStv, noem maar op.  Hierdie tegnologiese wonders verstom jou die een dag, en net die volgende dag word dit vervang met iets nuuts, iets wat nog meer verstommend is.  Daarom is die waarheid waaraan Hebreërs jou herinner dalk vir jou baie vreemd: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid”  (Heb. 13:8).  Maar dit is ‘n waarheid waaraan jy in hierdie nuwe jaar kan vashou:  Die Here sal nooit uitgedien raak soos ‘n tegnologiese wonder nie.  Jy sal altyd op Hom kan staatmaak.


Miskien hou die nuwe jaar vir jou baie veranderings in.  Dalk gaan julle trek, of miskien gaan jy universiteit, kollege of hoërskool toe.  Dalk maak dit jou bang om te dink aan al die nuwe en vreemde dinge wat ‘n nuwe jaar kan bring.  Of miskien is jy opgewonde oor nuwe ontdekkings wat jy kan maak.  Onthou net elke dag:  Jy kan  ALTYD op God vertrou.  Hy sal jou vanjaar lei en help, net soos verlede jaar en ook die jare wat nog kom.


Maak ‘n lys van alles wat vanjaar in jou lewe kan verander.  Maak dit jou bang?  Maak dit jou opgewonde?  Onthou dan:  Jou God bly altyd dieselfde.  Jy kan op Hom te alle tye vertrou.


Here Jesus, baie dankie dat U nooit verander soos al my tegnologiese gadgets nie.  Dankie dat ek aan die begin van hierdie nuwe jaar kan vra dat U my hand sal vat en my elke dag sal lei, net soos in die verlede.  Amen




Nina Smit :  Chill Tyd vir Meisies




Jesus se Dogterkind / Facebook
Poppie Oosthuizen






Share on Tumblr