“Soos klei in die pottebakker se hand, so is
julle in my hand, Israel.” (Jer 18:6)
“ U het my gevorm, my aanmekaargeweef
in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike
wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering.” (Ps.
139:13,14)
’n Klompie hengelaars het sowat ‘n eeu gelede
in ‘n kroeg in ‘n dorpie in Skotland gesit en stories vertel oor die “groot”
vis wat weggekom het. Een van die mans het beduie hóe gróót die vis is wat
weggekom het, en per ongeluk die kelnerin se skinkbord uit haar hande
geslaan. ’n Vol teepot het ’n lelike bruin vlek teen die wit muur gespat.
Die herbergier was moedeloos en het gesê dat hy die muur sou moes oorverf.
“Miskien nie, het die vreemdeling aangebied. “Laat
ek kyk wat ek kan doen.” Die herbergier het hom maar laat begaan toe hy sy
kunstas uithaal en begin om met potlode, kwaste en ’n paar potjies verf
die teevlek in te kleur. Kort voor lank het die bruin teevlek verander in die
mooiste takbok met ’n paar reuse horings! Onderaan het die skilder sy naam
geteken – Sir Edwin Landseer – ’n beroemde natuurskilder. ’n Ongeluk word ’n meesterstuk!
In GOD se hande sal Hy ook van jou ’n meesterstuk
maak, maak nie saak hoe die lewe jou al gevlek of verniel het nie. Elke dag
doen God se hande dit oor en oor in jou lewe. Hy kyk net een keer na jou lelike
vlekke en begin dan om dit te vorm met Sy liefde. Jy kan dit dalk nie altyd
raaksien nie, maar dag na dag is Hy besig met jou en my – sodat ons al hoe meer
word soos HY ons wil hê. Ons seer en mislukkings is sy geleenthede om ons in Sy
hande soos klei te vorm.
Dalk sien jy net die foute in jou lewe – en ook in
ander mense se lewe, raak. Moenie! Laat toe dat GOD jou en ander om jou vorm en
skilder met Sy Gees. Hy wil ons al hoe meer laat lyk soos ons Ouboet – soos
Jesus! “Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word.
Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die HERE wat
die Gees is.”Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons
nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.”(2 Kor 3:18)
Moenie moedeloos word as jy swaarkry of ly nie. GOD
weet wat Hy doen – Hy is besig om jou al hoe mooier te skilder vir die
Koninkryk wat kom. Ons sien net die uiterlike dinge raak – Hy werk met ons
innerlike gees. Ja, alles werk ten goede mee, vir dié wat Hom lief het. (Rom
8:26)
Hy is die Pottebakker – ons is die klei!
via Gansbaai Courant
No comments:
Post a Comment